Popular Posts

Sunday, 26 July 2015

JOU KINDERS OP FACEBOOK...


JOU KINDERS OP FACEBOOK...

Oulik of kos vir predatore?

DEUR: JACO KLEYN

’n Bekende in letterkunde en kuns kringe vra op Facebook of ons ook dink dat dit onvanpas en onveilig is om foto’s van ons minderjarige kinders op sosiale media platforms te plaas. Nie in haar stoutste verwagtinge het sy die terugvoer of komentaar wat gevolg het verwag nie.

Wat bedoel was as ’n vraag waaroor almal die een of ander tyd nugter oor moet dink het vining ontaard in ’n storm in die kleine. Aan die een kant was daar diegene wat die vraag as persoonlike aanvalle op hul styl van ouerskap gesien het en aan die anderkant die mense wat steeds glo dat sosiale media die veiligste plek op dese aarde is. In die middel rond was daar darem ook ’n groepie wat die werklike gevare verstaan en voorkomend daarteen wil optree.

Wat dan is die gevare, indien enige?

Op 13 Januarie 2015 word ene William Beale (37) gearresteer vir klagtes wat wissel van besit van kinder pornografie tot die verspreiding daarvan. Aanklaers beweer dat hy deel is van ’n groep mans wat op ’n internasionale vlak opereer en tydens die deursoeking van sy woning word onder andere beslag gelê op rekenaars waarop letterlik duisende foto’s van babas verskyn. Hierdie foto’s wissel van kinders wat in doeke lê tot kinders wat naak in die bad sit tot babas wat seksueel mishandel en selfs verkrag word. Die gevaar is dat mense soos Beale die internet fynkam vir foto’s en tuisfilms van babas, kleuters en jong kinders wat dalk skrams geklee is of in baie gevalle selfs naak in ’n bad sit. Hierdie beelde word dan in algemene taal ge-copy en ge-paste en binne sekondes is ’n foto wat bedoel was vir vriende en familie knussies weggebêre op die hardekyf van ’n pedofiel se rekenaar.

Hierdie voorbeeld is alles behalwe ’n sê nou maar scenario. Dit is wat werklik gebeur het en is feite wat eersdaags in die howe getoets sal word. In baie gevalle “leer” verbruikers hulself slegs die basiese beginsels wat nodig is om sosiale media te gebruik en bly sekuriteit en beskerming van hul eie aanlyn teenwoordigheid vêr agter. Dit is dan juis hierdie “gemaklike” houding jeens die internet wat predatore die geleentheid bied om vrylik op profiele rond te beweeg en foto’s af te laai wat nooit bedoel was vir vreemdelinge se oë nie. Hoeveel maal het die skrywer nie al die woorde gehoor “ouma is ook nou op Facebook”en hoeveel maal was die skrywer nie skeef aangekyk wanneer hy gevra het of ouma darem geleer is hoe om haar profiel te beskerm nie...

 Die Afrika Handves ten opsigte van Kinderregte gee die volgende riglyne aan vir kinders; Art 2 kinders die inherente reg het om beskerm te word. Art 3-5 kinders die reg het [...] op privaatheid en Art 21 [...] teen alle vorme van seksuele uitbuiting of misbruik beskerm moet word. Elke ouer sal natuurlik nou hande in die lug gooi en ten sterkste beswaar maak deur te sê dat hulle nooit hulle kinders aan enige van hierdie situasies sal blootstel nie en met reg ook. Die probleem is egter nie dit wat ons as ouers doelbewus doen nie, eerder dit wat ander wat inbraak op ons eie privaatheid maak, doen. Soos in die Handves van Kinderregte vervat is, is dit elk van ons as ouers van minderjarige kinders se plig om dan ook hulle privaatheid ten ergste te beskerm.

Die internet en spesifiek die sosiale media is ’n potensieel gevaarlike plek. Uiteraard is die inkopiesentrum ook ’n gevaarlike plek maar net soos geen ouer sy of haar kind alleen in die motor sal los voor ’n besige inkopiesentrum nie, net so behoort geen ouer sy of haar kind “alleen” in die virtuele sfeer te los nie. Kenners verbonde aan die Amerikaanse FBI waarsku internet verbruikers veral teen die interne stelsels waar bv. foto’s wat op jou rekenaar gestoor word outomaties gedeel word na jou selfoon, tablet of ander toestelle wat jy dalk mag gebruik. In baie gevalle vernietig die slagoffers foto’s op die een maar vergeet dat dieselfde foto’s op al hulle ander toestelle ook is. Die aktrise Mary E Winstead (Kill the Messenger; 2014) sê die volgende in ’n persverklaring nadat privaat foto’s van haar op die internet verskyn het; “knowing this photos were deleted long ago...” Hulle (die FBI) gaan vêrder en onderstreep die belangrikheid van sekuriteits stellings op verskillende sosiale media platforms maar onderstreep ook die feit dat hierdie stellings nie noodwendig jou of ander verbruikers sal beskerm teen inbraak deur kubermisdadigers of pedofiele nie.

Is sosiale media nou ’n “te gevaarlik om te besoek” plek?

Alles behalwe. Die belangrike om te onthou is dat dit, soos die inkopiesentrum en vele ander plekke, ’n potensieel gevaarlike plek is. Verder is dit belangrik om, net soos by jou huis, die nodige voorsorgmaatreëls in plek te sit. Dit is so dat geen plek op aarde sekerlik booswig-bestand is nie, maar dit betekin sekerlik nie dat ons daarom ons deure ongesluit moet laat en die noodlot aanhou tart nie...

·         Hou jou vriendelys dop en maak seker dat jy almal daarop ken of ten minste iets van die persoon weet.

·         Maak seker dat jou anti-virus programme geaktiveer is en opgraderings op datum is.

·         Boodskappe of uitnodigings uit die vreemde... Dink logies en vra jouself die vraag; “Hoekom met my?”

·         Wees versigtig vir vreemde webtuistes en vermy dit eerder.

·         Onthou die internet en alles wat daarop geplaas word, is vir ewig.

·         Die meeste selfone, tablette en skootrekenaars sinkroniseer hulself deurlopend met mekaar. Kortliks betekin dit dat foto’s met jou selfoon geneem sal sonder dat jy dit self doen opeindig op al die  ander aparate wat jy gebruik. Om dus iets met jou selfoon af te neem en daarna te vernietig betekin nie dat bv. die foto oral vernietig is nie.

·         Onthou, daar is mense in die wêreld wat nie jou sin vir reg en verkeerd deel nie.

Opinies oor hierdie onderwerp is uiters uiteenlopend en soos met baie ander onderwerpe sal daar net soveel mense wees wat daarmee saamstem as wat daar mense sal wees wat dit as persoonlike aanvalle teen hul ouerskap styl sal ervaar. Uiteindelik is die vrae wat gevra moet word; Doen ek alles wat ek kan as ouer om my kind se privaatheid te beskerm? Indien my baba self kon besluit sou hy of sy so ’n foto met die wêreld deel?  

No comments:

Post a Comment