Deur: Jaco Kleyn
Gesels
ʼn mens met die skrywers van Kinder en Jeug literatuur kom jy vinnig agter jy
het met ʼn ander tipe skrywer te make. Daar is ʼn openlike gebrek aan die
misterie wat die meeste eerste jaar letterkunde studente geglo het ʼn absolute
noodsaaklikheid is vir sukses in die skryfbedryf. Hulle dra rolnektruie omdat
hulle koud kry, nie omdat hulle daardeur
hulself wil toevoeg tot ʼn uitverkore groep nie. Hulle praat Afrikaans, maar
Afrikaans met ʼn edge. Hulle is ook
nie grootmense tussen kinders en kinders tussen grootmense nie, dit is ʼn
bordjie wat om ʼn ander edele professie se nek gehang word... Inteendeel baie
van die suksesverhale binne hierdie Genre se akademiese rekords getuig van MA
grade en prestasies waarvan die gewone sterfling maar net kan droom. Dit alles gesê
is dit ongelukkig ook ʼn feit dat hulle in baie opsigte randfigure binne die literêre
wêreld bly, en deurgaans maar met die agterspeen tevrede moet wees.
Hierdie verpligte drinkery aan die agterspeen
is vreemd veral wanneer ʼn mens besef dat die leser van more juis deur hierdie
groep skrywers gekweek word. Die enigste manier om
kulturele dividende in die jare wat voorlê te verseker is om vandag (met
oorgawe) in daardie mark (kinder/jeug) te belê. Daarvoor het ons nie net
skrywers nodig nie, ons het skrywers nodig wat met oorgawe hulle onderskeie
markte bedien en dien. Ons het skrywers nodig soos Jaco Jacobs, Janie Oosthuizen en Carina Diedericks-Hugo (om maar ʼn paar te noem), wat met elke teks meer en meer
jongelinge bekeer tot die geloof van lees. J C Steyn meld in Nederlandstaliges se bydrae tot die behoud
en erkenning van Afrikaans 1870 – 1920[i]
dat letter sowel as taalkundiges, joernaliste, uitgewers en veral onderwysers ʼn
bepalende rol gespeel het in die vestiging van Afrikaans. Alhoewel die studie
hoofsaaklik fokus op die vestigingsjare van Afrikaans as taal is die rol van
verkillende partye tog interessant. Dit is dan ook by die rol van onderwyser
waar die Kinder/Jeugboekskrywer nouliks aansluit. Waar ʼn skrywer van volwasse
fiksie ten beste ʼn paar honderd lesers persoonlik bereik tydens ʼn boektoer, is
dit glad nie vreemd vir die Kinder/Jeugboekskrywer om tydens ʼn boektoer ʼn paar
duisend lesers of potensiële lesers te ontmoet nie. Baie onlangs het een van
die bekendes binne hierdie groep byvoorbeeld vyftien skole binne een week
besoek en kan daar met redelike sekerheid bereken word dat die boekervaring
deur ten minste 8000 jong mense ervaar is.
![]() |
| Foto: Bertus Osbloed van Niekerk. Carina Diedericks-Hugo besig met "bekeringswerk" |
Dit alles gesê en gedaan word hierdie groep
skrywers steeds nie in dieselfde sin gebruik as die grotes van die letterkunde wêreld
nie. Die werke van die Kinder/Jeugboekskrywer word selfs nie eens in die HAT as
letterkunde gedefinieer nie, en word heel snobisties na verwys as Leesstof wat gelees kan word, gewoontlik in
boekvorm. Lektuur vir jeugdige persone. Kinderlektuur[ii].
Die verkleinering van hierdie genre gaan verder met verklarings rondom
letterkunde as geskrewe werke veral die waarvan
die waarde lê in die skoonheid van Taalgebruik.
ͥ ͥ Hierdie tendens laat my baie aan n gebou dink. Niks aan daardie
gebou kan in afsondering staan en steeds as ‘gebou’ kwalifiseer nie. Wanneer
daar dus gepraat word van n gebou sluit die woord alles in, die fondasie, die mure,
die dak, die vloere, die afwerkings wat die gebou uniek maak teenoor ander
geboue ensovoorts. Kinder/Jeugboekskrywers en die letterkundige bydra wat hulle
lewer is dan vir my die fondasie van die letterkundige gebou en alhoewel nie
altyd deur almal gesien nie, is dit net so belangrik vir die uiteindelike
bestaan van daardie gebou soos wat die dak of enige ander deel is. Daar is dus
n onmiskenbare rol wat deur hierdie groep skrywers gespeel word, veral binne
die sosio kulturele gebied van n land soos Suid Afrika.
![]() |
| Vergelykend met die ouer titels word die diverse samestelling van die bevolking nou baie beter weergegee. |
Anree – Jeanne Tötemeyer bevind in die artikel
Afrikaanse Kinderlektuur as literatuur in
n veelrassige samelewing (1985)[iii] dat
swart mense (veral mans) byvoorbeeld in die 1950’s veral as moordadig voorgestel word in jeug en
kindertekse. In die 1960’s verander die ‘status’ van die swart man na die van terroris. Daar word ook deurentyd
nostalgies verwys na die tydperk van die Voortrekkers waar hulle veral
vooropgestel word as die ‘slim’ patriagale wit held, natuurlik teenoor die ‘dom’
onderdanige en grootliks afhanklike swart man. Laasgenoemde natuurlik tipiese
apartheidsretoriek en deel van die beweegredes vir die inwerkingstelling
daarvan. Hieruit word dit dus duidelik om te sien dat kinder en jeug literere
werke nie net oulike stories is nie (daar is wel enkele sulkes), maar
inderwaarheid n integrale deel uitmaak van die jong kind se verwysingsraamwerk.
Daar kan selfs sover gegaan word om te se dat die skepper van hierdie literere
werke met elke skepping die gewig van n volgende generasie op sy of haar skouer
dra.
Daar bestaan egter n unieke situasie in
hierdie genre-tipe deurdat die leser (verbruiker) nie altyd of gewoontlik die
een is wat die aankoop funksie voltrek nie. Dit is dus nodig dat daar n
bewustheid nie net onder die lesers van hierdie tekste nie, maar ook onder die
aankopers daarvan aangewakker word. Ouers, onderwysers, toesighouers en elke
volwassene wat direk of indirek betrokke is by die lewe van n jong kind moet
besef dat deur daardie kind aan te wakker om te lees, of soos elders genoem tot die geloof van lees bekeer, vir
daardie kind n stewige fondasie sal le waarop hy of sy n volwaardige ‘toekomshuis’
kan bou. Laastens moet die Literere establishment
besef dat sonder die fondasies wat deur Kinder en Jeugboekskrywers gele word,
daar in die toekoms eenvoudig geen dividende sal wees om die bedryf aan die
lewe mee te hou nie.


No comments:
Post a Comment