Popular Posts

Thursday, 30 July 2015

Sit dit aan sit dit aan...

 

Leon Louw skryf op 29 Julie 2015 “If you dream of ending rather than perpetuating the farce. If you want to force the goverment to – unbundling ESKOM and subjecting it to competition – there is practical advice everywhere. Google “how to safe electricity” or ask ESKOM what to do, and do the exact opposite. http://www.bdlive.co.za/opinion/columnists/2015/07/29/turn-on-your-heaters-and-geysers

Reg so.  So hier is die plan; Almal sorg dat julle selfone gelaai is en alles wat kan laai ‘vol’ is teen more middag twaalf uur. As die kanon skiet sit ons almal alles aan wat ons in ons huise en werksplekke het wat elektrisiteit gebruik. Genoeg is nou genoeg, ons gaan hulle (ESKOM en die Regering) nou eens en vir altyd n les leer! Laat die revolusie begin! Leon Louw is immers n Uitvoerende Direkteur van die Free Market Foundation so hy weet definitief waarvan hy praat. Verder het dit in die koerant gestaan, en ons weet mos dat wat in koerante staan net die waarheid is en niks minder as die volle waarheid is nie. 
Ons is juis heeltemal keelvol vir alles wat enigeiets met die staat te make het. Zuma en sy gabbas krap lankal ons gatte en by the way wil ons hom terugkry vir Nkandla ook. Alles goed en wel, maar net voor jy verstik in die gal, vat gou n lappie en vee die skuim wat by jou mond uitbolling af en word kalm. Dink gou verby die wonderlike gevoel van “ons het iets bereik”, en vra jouself wat presies dit is wat ons sal bereik? Laat ek die resultaat verduidelik aan die hand van die gewone huis in Suburbia as voorbeeld. Die elektrisiteit wat in jou huis inkom word “versprei” vanaf n sentrale plek, in die volksmond bekend as die kragboks. Hierdie kragboks het verkeie skakelaars in waar jy die muurproppe, ligte, warmwatersilinder ensovoorts afsonderlik aan en af kan skakel. By elk van hierdie skakelaars is daar n stroombreker teenwoordig wat keer dat, sou daar fout kom, die elektrisiteit nie eenvoudig aanhou vloei nie. Hierdie stroombrekers se doel is dus hoofsaaklik beskermend van aard. Ook wanneer die aanvraag binne die huis die aanbod van buite die huis oorskry skop die doel van die stroombrekers in en skakel dit outomaties die “lyn” waarop die oor-aanvraag is af. Dit is nie om vir jou die tradisionele middelvinger te wys nie, glad nie. Dit is so ontwerp om jou  en jou eiendom te beskerm teen enorme potensiële skade. Gestel vir n oomblik dat die stroombrekers nie in plek sou wees nie, wat sou dan gebeur? Die krag sou aanhou vloei en alhoewel die aanvraag die aanbod ver sou oorskry sou die krag aanhou vloei. Toerusting wat dus x hoeveelheid elektrisiteit nodig het om te werk sou slegs x minus y kry. Daar sou niks in plek wees om dit te beskerm nie. Die resultaat? Skade... ongekende skade.
So ja, buiten die ongekende skade wat ons aan die Nasionale Elektrisiteit Infrastruktuur sal aanrig sou ons nou almal meneer Louw se oproep tot aksie volg, is daar ook nog die feit dat dit ten minste twee tot drie weke sal neem om weer die land se krag aan te skakel. Twee tot drie weke waarin die land op alle vlakke letterlik tot n totale stilstand sal kom. Twee tot drie weke waarin alarms en ander sekuriteit stelsels nie sal werk nie. Twee tot drie weke waarin Suid Afrika sal verander van n land met uitdagings tot n land verval in totale anargie. So as jy dink dit gaan nou erg, skakel gerus more twaalf uur alles wat jy kan aan dan praat ons weer oor n week.... O nee, wag. Ons sal nie kan praat nie want ook die internet sou in die proses in die slag bly!
Maar daar is hoop burgers. Hoop in die vorm van plaaslike verkiesings in 2016, en hoop in die vorm van nasionale verkiesings in 2019. Dit is daar waar jy n verskil sal kan maak. Intussen, benut elke romantiese kerslig oomblik wat ESKOM jou gee. Steek op die kerse, gooi n glasie wyn, vertel jou wederhelf hoe lief jy hom of haar het en moenie worry nie, Sewende-laan het elke Sondag n omnibus...

 

No comments:

Post a Comment