Popular Posts

Friday, 23 October 2015

AMNESTIE VIR ZUMA; DIE PRYS VAN VERANDERING EN VOORUITGANG


DEUR: JACO KLEYN

Solank Jacob Zuma die president van Suid Afrika is sal ons land voortstrompel van krisis na krisis. Die vraag is nou wat gemaak kan word om hierdie situasie te verander.

Dr Pieter Mulder van die VF+ sê onlangs op ʼn radio program dat die enigste manier vorentoe is om die president amnestie te gee vir al die klagtes teen hom. Onmiddellik snak ʼn mens na jou asem met die aanhoor van hierdie woorde, veral uit die mond van ʼn tradisioneel regse politieke figuur. Tog, nadat die woorde so bietjie oordink word, begin die logika daaragter al hoe duideliker deurskemer. Dit is immers die sewe honderd plus potensiële klagtes teen hom en veral die hele Nkandla gemors wat aftrede uit die president se oogpunt na ʼn redelik gevaarlike opsie laat lyk. Maar hoe nou gemaak? Gaan die feit dat hy ʼn skoon blaadjie kry nie die korrupte magsbasis verstewig nie?

Op die laaste vraag kan geen mens seker ʼn definitiewe antwoord gee nie. Tog sal die skrywer ʼn versigtige ek glo nie waag. In antwoord op die eerste vraag moet ʼn mens ʼn kort ompad neem om by die antwoord uit te kom.

Suid Afrika word die afgelope klompie weke gekonfronteer deur iets wat die van ons wat oud genoeg is 39 jaar terug ook sien gebeur het. Die jeug van die land staan op en se genoeg is genoeg! Die vraag is nou of hierdie opstandigheid onder studente iets is wat sommer ʼn week of drie terug tydens ʼn studente braai besluit is, of is dit die gevolg van ʼn veel erger en ernstiger probleem. Sonder twyfel sal laasgenoemde as oorsaak tipeer word. Hierdie opstandigheid broei al lank. Inteendeel dit is die gevolg op leë beloftes wat deur die ANC gemaak is so ver terug as 1994. Ironies genoeg ʼn jaar of twee voor die geboorte van baie van vandag se opstandige studente. Wat het dit dan te make met amnestie vir Zuma, sal baie nou vra? Alles. Ure en ure is in die parlement spandeer aan doellose debatte rondom Nkandla en pogings deur minderheid partye om die president in ʼn staat van beskuldiging te plaas. Ure en ure wat eerder spandeer moes word aan die probleme van die land. Dringende kwessies soos die toekoms van ons jeug.

Dit is tyd dat die opposisie partye in die parlement die voorbeeld volg van die studente en ras, politieke oortuigings en kultuur grense begin ignoreer en saamstaan teen die gemeenskaplike kanker in hul midde. Laat daar ʼn mosie uit opposisie banke kom om die president amnestie te gee, koppel daaraan die volgende voorwaardes;

·         Hy erken dat daar korrupte handelinge in die Nkandla proses was.

·         Hy erken dat hy voordeel daaruit put of uiteindelik sal put

·         En laastens hy erken dat hy die proses beter moes bestuur en fouteer het in sy optrede om die oorsig daarvan aan lakeie oor te laat.

Indien hy hierdie erkennings aan die parlement gemaak het kry hy onvoorwaardelike amnestie vir alle klagtes teen hom. En hiermee word ʼn hoofstuk afgesluit wat ons land reeds te veel geld en tyd gekos het. Bo en behalwe die feit dat die Olifant uit die glaswinkel gehaal word sal die president geen verdere rede hê om ondergeskikte aanstellings te maak bloot om sy eie bas te beskerm nie. En uiteindelik sal die rede vir sy vasklou aan mag nie meer bestaan nie.  Dit is wel so dat in ʼn tipies Westerse regerings opset so ʼn aksie deur ʼn dienende president politieke selfmoord sou wees. Maar laat ons nou maar eerlik wees, politieke selfmoord van ʼn enkeling is beter as die gruwelmoord van ʼn demokrasie.

No comments:

Post a Comment